Hoogtepunte

25 Maart - 1 April - Cycle to Transform Fietstoer saam met
Campus Crusade for Christ.

 

Ons gesin het hierdie groot avontuur aangepak met die bedoeling om te gaan saai en dien.  Ons het 7 bedieningsgeleenthede in 6 dae gedoen.  Danksy julle ondersteuning kon ons 100 Projek Forward It CD's saai, sowel as 10 boeke en 25 CD's aan mense wat met kinders werk.  Die span het ook verskeie Living Ball balle saam gebring wat ons kon saai.
God het ons op ‘n wonderbaarlike wyse in staat gestel om hierdie skitterende toer mee te maak.   Ons het saam met ‘n groep van 8 fietsryers van Campus Crusade ‘n roete van meer as 1200km getoer met die Goeie Nuus.  Ons het elke dag in ‘n ander dorpie bedien en gereeld gaan ondersteuning bied by verskeie welsynsorganisasies.  Meer as 1900 mense is bereik op die toer waarvan ongeveer 1500 kinders was.  

Ons gesin se fokus was tweeledig:  Uitreik na die gemeenskappe en ‘’inreik’’ na die span fietsryers en hul gesinne.  Ons het gereeld by elke stopplek en waterpunt die fietryers bemoedig en bedien met koue koeldranke, versnapperings, deepheat, gebede en humor.  Lizette en die ondersteuners het selfs ‘n tentseiltjie oor die fietsryers se koppe getrek om hul bietjie skaduwee te gee in die hitte van die dag.  Nadat  goeie vriende van ons, Glen & Corina Buys en hul gesin in Prieska by ons aangesluit het, is daar nog meer petrol op die vuur gegooi!  Ek en my ‘’partner in crime’’ het gereeld die fietsryers laat uitbars van die lag en hul swaarkry verlig met ‘n tikkie humor en musiek.
In die aande het ons meestal in die buitelug bedien met die Jesusfilm projek.  Ons kon saam met die span sommer gou-gou die hordes kindertjies wat altyd saamdrom by die vertonings op hulle vlak bedien.

Dit was baie lekker om ‘n nuwe generasie te aktiveer om hul gemeenskappe oor  te bou en heel te maak vir die Koning.  Ons gesin se eerste bediening was ‘n kinderhuis in Barkley Wes, waar daar ongeveer 70 kinders van verskillende rasse en ouderdomme bedien is.  Daar was baie bekerings en nuwe toewydings aan die Here.  Ek kon op hul gesigte sien hoedat ‘n paar kinders die uitdaging gevat het om hul lig te laat skyn.  Hulle sal nooit weer skaam wees oor die Goeie Nuus van Jesus Christus nie.

Dit was ‘n groot voorreg om die Koshuismoeder, Tannie Susan te ontmoet en haar weer te bemoedig in die liefde en ywer wat sy in haar werk insit.  Haar moederhart is vergroot en vernuwe.  Ek en sy kon nie uitgepraat raak oor hulpbronne waarmee die kinders bedien kan word nie.  Ons bid dat die Here dit vir ons sal moontlik maak om weer eendag daarlangs te gaan en te sien hoe dit met die kinders en Tannie Susan gaan.

Dit was telke male ons ervaring dat die Here ons gelei het om by die regte gemeenskapsleiers en kinderbediennaars uit te kom om die boodskap verder te kan vat na ons vertrek.  Soos die dag toe ons vir Tatho en Mpana langs die pad ontmoet het by ‘n kruispad  waar die groep ontbyt geëet het.
Oom Henry het vir my en Stoffel geroep om saam met hom te gaan Living Ball balle en armbandjies uitdeel, toe ons hierdie 2 manne oorkant die pad sien staan en wag vir ‘n rygeleentheid.  Ons het spontaan die storie van die Living Ball met hulle gedeel en alhoewel hulle reeds van God geweet het, kon ons saam met hulle bid vir ‘n verdieping in hul geestelike verhouding en ‘n nuwe seisoen van leierskap.  Na die gebed vind ons uit dat hierdie 2 manne betrokke is by die plaaslike sokkerklub. Ons het oorgeborrel van vreugde toe ons besef hoe die Here presies die regte mense op presies die regte tyd en plek kan laat bymekaarkom vir presies die regte rede.
Ons het verstaan dat Here ons met ‘n doel na hierdie manne toe gelei het omdat hulle betroubare manne is wat die boodskap verder sal vat. ( 2 Tim 2:2)

En so is daar eindlose verhale van veranderde lewens en nuutgemaakte harte deur ‘n groep mense wat bereid was om van hulle tyd, moeite en hulself te gee om jaar na jaar die lang pad te vat en tree vir tree die land vir Jesus te wen. 

Van die wonderwerke wat ons beleef het sluit in:  Baie bekerings, verskeie genesings, 'n skerpioen in die sand wat nie ons kinders gesteek het nie, herstelde huwelike en gesinne, vrymaking van alkohol en losbandigheid, terughou van reën tydens 'n buitelug optrede.

Ons is baie trots op elkeen van die fietsryers en bid dat God hulle sal help om daardie selfde oorwinnings te kan deurvoer na hul invloedsfeer waar ookal hul verder mag gaan.
Bernard het vir ons 'n kort skyfievertoning aanmekaar gesit van 'n paar van die hoogtepunte.