16 April: Liedjie skryf en Opname

Kan jy glo?  Omtrent ‘n jaar terug was ons presies in die laaste fase van ons eerste CD en nou is ons al besig om liedjies vir die tweede CD en veral vir die My Skool Rock waardes kompetisie op te neem.

Ek en Bernard het vroeg die oggend van 16 April deur die verkeer geveg oppad na Wynand Delport se tuisateljee in Midrand.
Daar aangekom is ons verwelkom met ‘n lekker koppie koffie en hordes kreatiewe idees.  Ons was weereens verbaas deur Wynand se raakvat musiektalent en ge-oefende ore vir musieknote en melodieë.

Kyk, hierdie talentvolle regisseur kan enige deuntjie oormaak en opkikker om sommer jou voete te laat dans sonder ophou.  Bernard het lekker gekry van kop tot tone elke keer as ons nuwe klanke en instrumente bysit.  Hy was getaak om die 'record' knoppie te druk en het sy werk soos ‘n wafferse musikant gedoen!  Ek weet sommer hy gaan eendag self ook ‘n skitterende regisseur en film maker wees!

Ons het begin werk aan die Multimiljoener ruimklets liedjie.  Hierdie lied help kinders om God se rykdom binne in hulself raak te sien en vrygewig te raak met die dinge wat God so mildelik aan Sy kinders gee.  Die klem verskuif vanaf onvergenoedheid oor wat ons nie het nie, na dankbaarheid en vrygewigheid van dit wat ons wel het naamlik tyd, lewenskrag, idees en kreatiwiteit - "deelit deelit uit, deel dit uit uit!"